1 Johannes 4: 4

Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.

Die meeste van ons het al die een of ander tyd mislukking beleef. Jy hoef jou nie daarvoor te skaam nie. Jy het net iets aangepak wat groter as jou vermoë was. Vir sommige mense is mislukking die einde van die wêreld. Hulle hou aan tob daaroor en kan nie genoeg daaroor praat nie. Hul selfbejammering ken geen grense nie.

Daar is ook die mense wat eerlik ondersoek instel na die oorsaak van hul mislukking. Hulle leer uit hul foute en oorwin selfbejammering deur positief vorentoe te kyk. Mislukking kan óf ’n uitdaging wees óf ’n aftakeling. Dit kan jou doelgerig en vasberade maak – jou ondernemingsgees stimuleer. Watter uitwerking mislukking op jou gaan hê, is uitsluitlik jou eie keuse. Gaan jy dit sien as ’n verleentheid of as ’n geleentheid?

Daar is baie voorbeelde van mense in die wêreld daar buite wat die skok en hartseer en vernedering van mislukking aan die lyf gevoel het, maar wat baie sterker uit die stryd getree het. Hoekom? Hulle was groot genoeg om hul foute te erken en dit as ’n duur les te beskou om nie weer dieselfde foute te maak nie. Hulle het hulself oortuig dat hulle groter as hul foute is. Hulle het geweier om slagoffers van gebeurlikhede te word; hulle het nie klaagliedere oor hulself begin sing nie, maar het aan hierdie woorde van die Bybel vasgeklou: …Hy wat in julle is, is groter as die duiwel… Oortuig jouself van dit wat op ’n ander plek geskryf staan: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Almagtige Vader, bewaar my daarvan om teen my mislukkings vas te kyk, en help my om U altyd voor oë te hou. Amen.

Dr Hannes Beukes, Emeritus/Morgenzon

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link