Psalm 42: 1-12
Verlang ons nog na God? Is daar werklik by ons nog die hunkering, die verlange na God se nabyheid, God se bystand, na ’n diepe ervaring van God se teenwoordigheid?
In die vroeë kerk is daar, net soos daar Paassondag en Pinkstersondag was, in die kerklike jaar voorsiening gemaak vir ’n “Verlangsondag”. Op dié dag het die kerk hulle probeer indink in die oomblikke, die paar dae na Jesus se hemelvaart, toe die dissipels die onsekerheid van sy afwesigheid ervaar het. Psalm 42 is dan altyd op daardie Sondag gelees. ’n Psalm waarin ’n mens byna die intense verlange in elke strofe kan aanvoel, veral in die dramatiese beeld van ’n wildsbok wat smag na waterstrome.
Ons leef egter nie in ’n verlangwêreld nie. Ons leef eerder in ’n begeerwêreld. Die ingesteldheid van die kerkvader Augustinus, my hart bly onrustig totdat dit rus vind in God, is in ons tyd iets vreemds. Ons ervaar dalk wel nog dieselfde onrus, die hunkering, die soeke – maar ons het die voorwerp daarvan verplaas; dit is nie meer God nie, maar dit wat ons self daar kan stel. In plaas daarvan dat ons in ’n verlang-en-opsoek-wêreld leef, leef ons in ’n wegvlug-of-onttrek-wêreld. Ons word maklik onbetrokke en afsydig. Die treurigste verskynsel van ons tyd is ons ongeërgdheid, ons traak-my-nieagtigheid. In die Middeleeue het die kerk dit askedia genoem – die belangeloosheid teenoor God en ander mense.
Miskien kan ons weer nadink oor ’n “Verlangsondag”, maar daarmee saam ook raaksien dat die Sondag net ná “Verlangsondag” Pinkstersondag is. Die Heilige Gees het juis gekom om ons verlange te versadig, om ons leegheid en diepste hunkering te stil. Deur sy Gees kom woon God onder ons, maar kom bind Hy ons ook aan mekaar.
Gebed
Here, ek verlang na u teenwoordigheid en vrede. Kom stil my verlange weer deur die wonderlike werking van u Gees in my. Amen.
Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort