Filippense 3: 12
Ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het (Fil 3: 12). As Jesus se volgelinge, kan en moet ons daagliks leef uit die triomf oor die dood. Ons moet die doodsheid uit ons denke weer en die lewe najaag. Ons moet die lewe leef!
Dit is waaroor Paulus skryf in Filippense 3: 12-14: Ek span my in om dit alles (die Lewe) myne te maak omdat Jesus Christus my reeds Syne gemaak het … ek maak my los van wat agter is (die doodsheid in ons denke) en strek my uit na wat voor is. Die opwekking van Jesus uit die dood wek ons op en moet ons opgewek maak om voluit te leef! Sy opstanding maak ons opgewonde en vul ons harte en lewens met vreugde.
Dit gee ons veral moed en die krag om nou reeds elke dag op hierdie aarde voluit vir die Here te leef. Ons sit nie en wag vir die hemel nie. Ons is nou op die aarde, geroep om die evangelie hier uit te leef as God se getuies en verteenwoordigers. Ons uiteindelike woonplek is die nuwe aarde onder die nuwe hemel.
Ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers (2 Pet 3: 13). Een van die belangrike gevolge van Jesus se hemelvaart, na sy opstanding, is dat dit ons op ’n nuwe wyse aan die aarde knoop! God het nie net hierdie aarde aan die begin geskep nie. Hy gaan dit ook herskep! Daarom is Christene nie wêreldvreemde mense nie. Ons moet juis in die Naam van Jesus deel vorm van die verlossing en herskepping van hierdie wêreld. Dit is waarvoor ons hier is. Jesus se opstanding en sy hemelvaart sit ons aan die werk op hierdie aarde tot by die uithoeke daarvan! Jesus laat ons die moue oprol vir hierdie aarde!
Ds Lisa-Mari Prinsloo, Centurion-Oos
