Titus 1: 5-16
Ek weet nie waar jy staan in terme van jou verhouding met Christus nie, maar ’n integrale element van daardie verhouding is om deel te wees van sy liggaam; deel te wees van die familie van gelowiges – die kerk. En dan, byna vanselfsprekend, kom die vraag – hoe kies ek die regte kerk om by in te skakel?
Dit is maklik om, wanneer jy ’n kerk soek om van deel te word, op die sigbare dinge te fokus. Die demografie van die gemeente, die styl van aanbidding, kinder- en jeugaktiwiteite, die gemak om daarheen te gaan, die beskikbaarheid van parkeerplek, en selfs hoe sag die sitplekke is. In ’n era waartydens ons minder bekommerd is oor die waarheid en meer gefokus is op gemak en gerief, loop ons die risiko om die belangrikste van kerkwees mis te loop. Paulus skryf aan Titus en sê in vers 9 oor die aanstelling van ouderlinge die volgende: Hy moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê.
Die Griekse teks van hierdie gedeelte praat van “gesonde leerstelling”. Wie stel belang in die leerstellings? Dis mos outyds. Nee wag, die gesonde leerstellings verwys hier na niks anders nie as dit wat Christus verkondig het. In teenstelling met die Joodse verdigsels, moet Titus toesien dat God se waarheid verkondig word. En dit is die waarheid: Jesus het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. Daar is nie een van ons wat nie nodig het om God se waarheid, God se liefde en God se krag in ons harte te beleef nie.
Moenie die kerk naaste aan jou huis soek nie. Soek die kerk naaste aan die Bybel. Dit is waar jy genesing vir jou siel sal vind.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
