Kolossense 2: 20 – 3: 4

Die vroeë kerk ondergaan ’n snelgroeifase wat hom voor verrassende uitdagings stel. Woorde soos bevryding en verlossing vlieg rond; mense kom spontaan in groepe bymekaar en sê openlik dat hulle navolgers is van ’n sekere Jesus wat hulle die Christus noem, die gesalfde van God. Die bevryding wat Hy verkondig het, was nie opstand nie. Dit was bevryding van die houvas van die sonde, die bose, die verkeerde. Dit is ’n boodskap wat betekenis bring in ’n troostelose bestaan; wat mense laat uitreik na mekaar; wat blydskap en dankbaarheid terugbring in ’n lewe vol bittere swaarkry. Dit is in daardie tyd ’n nuwe interpretasie van waaroor dit gaan in die geloof.

Daar was ’n faksie in Kolosse se gemeente wat wou hê dat die nuwe Christene die ou Joodse gebruike moes handhaaf. Jy moes die Joodse godsdienstige feeste onderhou, die Joodse reinheidsgebruike handhaaf en onrein diere, produkte en kosse vermy. God is ver en so heilig dat ’n mens nie sommer in sy teenwoordigheid kan kom nie en ook nie eens sy Naam mag sê nie.

Jesus het ’n ander verstaan van God as die mense van sy tyd. Sy ervaring van God is een van intimiteit, geborgenheid, onmeetlike liefde, genade. Nie veroordeling nie, maar omhelsing; nie uitsluiting nie, maar insluiting, versorging en heling. As ons dit beskryf as die weg van liefde, vergifnis en vrede, moet ons vir geen oomblik dink ons het met iemand te doen wat ’n swakkeling is nie. Jesus is onwrikbaar in sy kritiek op mense wat dink dat hulle God verstaan en namens Hom kan praat en oordeel. Geloof is nie ’n saak van raak nie, smaak nie en roer nie aan nie. Die bevryding wat Christus bring, is nie ’n stel nuwe reëls waaraan tot in die fynste gehoor gegee moet word nie.

Bevryding bring ons nader aan die Here en aan mekaar. Omdat ons sonde vergewe is, kan ons nou liefhê en lewe sonder vrees. Dit is ’n blye versekering.

Dr Piet van Staden, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link