Hebreërs 11: 32-40

Die skrywer van hierdie brief het uiteindelik ʼn verleentheid oor die groot getal geloofsgetuies uit die vorige tye – ons kan maar sê uit die Ou Testament. Hy kan nie oor elkeen van hulle persoonlik verder skryf nie. Daarom kry ons in hierdie gedeelte die wye verskeidenheid van verwysings na mense soos Ragab en belangrike persone soos Samuel en Dawid, naas rigters en profete. Daar was ook verskillende ervarings wat gewissel het van persoon tot persoon. Wat hulle met mekaar gemeen het, is dat daar oor hul almal vanweë hul geloof met soveel lof getuig is. En hulle het nie verkry wat beloof is nie. Die skrywer impliseer selfs dat dit vir die lesers – en dus vir ons – gewag het dat alles eers in Christus die doel van God sou bereik.

Hier kom ʼn besondere aspek van geloof na vore, en word dit vir ons ook duidelik. God het ʼn saak met van die belangrikste mense uit die ou verbond, en net so met van die geringstes in die geskiedenis van Israel. Oor hulle almal kon daar vertel word dat hulle op grond van hul geloof soveel lof ontvang het. Dit word ook duidelik waaroor dit in die geloof gaan. Om te glo, beteken om aan God vas te hou en in sy gemeenskap te lewe. Dit gaan nie in die eerste plek oor alles wat uiterlik en konkreet ontvang word nie. Jy glo nie in God ter wille van wat jy daaruit gaan kry nie. Gelowiges se omstandighede kan wissel tussen voorspoed en seëninge aan die een kant, en teenspoed en verdrukking aan die ander kant. Hul geloof het daaruit geblyk dat hulle aan God vasgehou het, al het hulle nie altyd alles verkry wat beloof is nie.

Die grootste beloning vir ʼn sondaarmens is dat jy in God se teenwoordigheid kan lewe met die wete dat jy God se kind kan wees. Deur die geloof ontvang jy ook die gawe om die onsienlike te kan sien en om seker te wees van alles waarop jy hoop.

Prof Piet Geyser, Emeritus/Meyerspark

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link