Amos 5: 18-24

Ons kan ons misgis met ons verwagtinge van Kersfees. Ons verwag ’n feestelike dag van die Here, vol van die Here se seën. Ons vergeet dat Amos waarsku die dag van die Here kan ook ’n dag van onheil wees. Dit is ook die dag waarop God oordeel vel oor ons sonde.

Wat is dit dan wat Amos se volk vergeet het en wat ons ook gevaar loop om nie te onthou nie? Amos sien die volk met skynbare oorgawe feesvier. Hulle vier God se redding, maar dit raak nie hul lewens nie. Hulle voldoen maar net formeel aan ’n godsdienstige vereiste. Die Here vra iets anders. Om te herdenk, is om te onthou, en daarom steeds daaruit te leef.

Die reg en geregtigheid is uit Israel se lewe weg. Die fees raak net ’n sprokie met die skyn van waarheid. Die praktyk van hul lewe weerspreek geregtigheid en verklaar dit ook ongeldig. God gaan jou nie laat wegkom met voorgee dat jy tot sy eer feesvier nie. Oor sulke skynheilige feeste vel God ’n woedende oordeel.

As ons Kersfees op die regte manier vier, sal ons ja kan antwoord op die vraag: Het jy vir Christus onthou? Het jy onthou dat dit oor jou sonde was dat Hy verneder is en mens geword het? Dat dit wat jou tot feesvier bring, vir Hom vervloeking en rampspoed gebring het? Het jy onthou om ’n begin te maak om aan jou sonde ’n einde te maak?

Moet nooit vergeet nie dat reg en geregtigheid van daardie eerste Kersfees af geskied. Jy kan nie nou gou hiermee ’n begin wil maak en dit dan ná Kersfees weer laat staan nie. Met Kersfees herdenk ons die wonder dat God sy genade aan ons kom gee het. Ons onthou dat ons nou dankbaar ons lewe moet voortsit. Mag die Here ons in hierdie Kerstyd laat feesvier omdat ons sonde oorwin is. Hy het hier verskyn tot ons redding.

Gesang 370

Ds Jacques Pieterse, Laer Suidkus

af
af
Deel met behulp van
Copy link