Lukas 2: 41-52

Lukas is die enigste Evangelieskrywer in die Bybel wat vir ons iets van die kinderjare van Jesus vertel. Lukas wil met die vertel van hierdie gebeurtenis vir ons wys dat Jesus van altyd af ’n besonderse verhouding met God het. Jesus het God en die doen van God se wil eerste in sy lewe gestel. Jesus is die Seun van God wat Hom besig hou met sy Vader se dinge. Dit hoor ons ook in die antwoord wat Jesus vir Maria gee: Het julle nie geweet dat Ek met die dinge van my Vader besig moet wees nie?

Deur Jesus is God ook ons Vader en is die vraag wat deur hierdie gebeurtenis na ons toe kom, die volgende: Waarmee hou ons onsself besig? Wat is die dinge waarmee ons besig was in die jaar wat aan die uitloop is? Waarmee beplan ons om ons besig te hou in die nuwe jaar wat voor ons deur lê?

Ons sou waarskynlik kon antwoord ons was hierdie jaar besig met ons werk, besig om in die tye waarin ons leef, te oorleef. Ons was besig met ons gesinne, families, die dinge van ons lewens. En dit is goed dat ons ook dink en beplan om besig te wees met dinge in die toekoms. Maar die dieper vraag is die vraag na die plek wat ons vir God gee in ons besig wees met ons werk, gesinne en families, geliefdes, die dinge van ons lewens. Laat ons toe dat ons besig wees met God en ons verhouding met God, ons besig wees met mekaar en ander bepaal?

Die teksgedeelte wil ons aanmoedig om besig te wees met die dinge van God. God se liefde, God se genade, God se mense. Die dinge waarmee ons besig is en ook hoe ons daarmee besig is, wys vir ander waar God in ons lewens is. Laat ons ons op die drumpel van die nuwe jaar daarop voorberei om na die voorbeeld van Jesus besig te wees met die dinge van ons Vader.

Dr Annelie Botha, Mafeking/Zeerust

Share via
Copy link
Powered by Social Snap