Psalm 84
Prof Marva Mitchell skryf in een van haar boeke (2001) oor die Afrika-gesegde: It takes a village to raise a child. Haar navorsing het aangetoon dat die “village” die vermoë verloor het om kinders groot te maak. Haar antwoord op hierdie uitdaging: It takes a church to raise a village. Epifanie bied geleentheid om oor die rol en plek van die kerk te gesels, want die kerk behoort Christus se koms na die wêreld te leef.
Mense sê die dae van die kerk is getel. Ons leef in ’n post-kerk-era. ’n Tyd waarin mense nie noodwendig ongelowig is nie, maar vir seker ’n tyd waarin mens minder met die kerk te doen wil hê. Die kerk sal altyd swakhede hê, want die kerk bestaan uit sondaarmense. Sondaarmense wat die Here aanbid en navolg. Ons glo dat die kerk God se instrument is, waarmee Hy vir die stukkende wêreld omgee.
Toksiese konflik is sleg vir die kerk. ’n Gesonde gemeente is nie een sonder konflik nie, maar een wat weet hoe om met konflik besig te wees. Die regte hantering van konflik in die kerk hou die potensiaal van groei in. Dink aan die woorde van Gesang 284: Laat, Heer, u vrede deur my vloei… waar haat is, laat ek daar u liefde bring. Leer my om ook soos U te kan vergeef. Maak my bereid om aan myself te sterf, dat ander U al meer in my kan sien.
Ons leef nie in die verlede nie, maar uit die verlede. Ons leer waardevolle lesse uit die verlede. Ons vier die verlede, maar ons raak nie vasgevang in die verlede nie. Ons leef nie na binne nie, maar na buite. Missionale kerkwees. Die kerk is soos asemhaal, as die kerk net inasem, sal die liggaam versmoor en sterf. Ons is na binne gerig om sterker te word om na buite te leef.
Mag ons vir die kerk, Kerk en ons gemeente net so lief wees soos die skrywer van Psalm 84: Hoe lief het ek u woning, Heer!
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein