Matteus 11: 7-9, 16-19

Dit is seker ’n bekende speletjie van daardie tyd waarna hier verwys word. Een groep kinders stel met musiek ’n bruilof en daarna ’n begrafnis voor, en dan moet die ander soos op ’n bruilof dans en soos op ’n begrafnis treur. Maar dan raak hulle verveeld en begin mekaar verwyt, en die speletjie eindig in ’n mislukking.

Dit is hoe Jesus oor van die mense rondom Hom gepraat het. Waarskynlik het die skare spottend na Johannes die Doper se snaakse lewenswyse verwys: die ou met die snaakse klere en eetgewoontes wat nou in die tronk sit en twyfelvrae vra. Waarna het hulle in die woestyn gaan kyk, vra Jesus hulle. Hulle het beslis nie al daardie moeite gedoen om deur ’n grapmaker of ’n model vermaak te word nie. Nee, hulle was ernstig besig om te luister na ’n profeet van God wat geleer het van bekering waar sprake is van sterf in jouself. Toe het hulle verveeld geraak met sy streng lewenswyse en eise, en hom demonies genoem.

Daarna kom Jesus met ’n nuwe boodskap: om met blydskap die koms van die ware Bruidegom te vier. Weer raak hulle verveeld en belaster Hom met allerlei skeldname.

Waarna het jy gaan kyk toe jy in die erediens was en in die Bybel gelees het? Is dit met die regte motiewe? Besef jy goed dat baie lewensvrae nie op gewone maniere beantwoord kan word nie; dat daar ook iets met jou moet gebeur vir jou om in te pas by ’n nuwe koninkryk; dat ’n gedurige verandering in denke nodig is?

Vir ’n gelowige moet daar steeds die ervaring wees van ’n begrafnis. Ons dink aan Jesus se dood, maar ook aan ons eie. In die Woord is daar immers sprake van die noodsaaklike afsterf van die ou mens, die eie ek. Aan die ander kant het ek en jy ook deel aan ’n huwelik, die bruilof van die Lam waar ons gaste is, maar meer nog, sy bruid, rein en vlekkeloos! Hiervan mag geeneen van ons speletjies maak nie!

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link