Handelinge 2: 37-47
Koinonia (gemeenskap van gelowiges) in die Bybel, lê baie dieper as net vriendskap onder medegelowiges. Koinonia se bedoeling is ’n goddelike, heilige, intieme eenheid tussen medegelowiges. Dit sluit in ’n spirituele sowel as ’n geestelike eenheid, wat so ver gaan dat hulle alles met mekaar deel. Kos, besittings, geld, tyd, gebed. In die boek Handelinge is daar vir ons ’n sprekende voorbeeld van wat ware gemeenskap van gelowiges is en beteken.
In Handelinge 2 lees ons van Petrus en die ander dissipels wat deur die Heilige Gees vervul word. Die Jode wat die uitstorting van die Heilige Gees aanskou, is verslae, hulle staan en toekyk hoe die dissipels in tale spreek. Dit lyk vir die Jode asof die dissipels dronk is. Petrus verkondig die evangelie en op daardie dag het meer as 3 000 tot bekering gekom. Hulle was splinternuut in die Christelike geloof. Hulle het hulle laat doop. Ons lees: Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede (Hand 2: 42).
Die koinonia is nie eksklusief nie; dit is juis inklusief vir elkeen wat glo, vir elkeen wat bely dat Jesus die Here is. Dit is nie ’n eenmalige geleentheid nie, maar ’n voortdurende leefstyl wat my broer en suster in die geloof insluit. Dit gaan nie oor my eie belange nie, maar om die belang van my medegelowiges eerste te stel. Christenskap se intensie was nog nooit dat jy in afsondering jou geloof beoefen nie. Christus het die kerk, die gemeenskap van gelowiges, juis so ingestel en bestem dat Hy (Christus) die hoof is van ’n liggaam met vele liggaamsdele wat afhanklik is van mekaar. Elk met sy besonderse funksie. Die liggaam het elkeen nodig, in samewerking met die ander. Alleen, beteken ’n ledemaat of orgaan tog niks.
Dus is koinonia, die gemeenskap van gelowiges, nie bloot ’n vriendskap met iemand wat ek so nou en dan sien, dalk vertrou, of ’n paar aktiwiteite saam mee doen nie. Koinonia is ’n intense verhouding tussen medegelowiges om die werking van die “Liggaam van Christus” te bevorder, in noue samewerking, afhanklikheid en ondersteuning van mekaar. Sodat hierdie “Liggaam” tot eer van God mag wees.
Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos