2 Timoteus 3: 1-17

Die tweede brief aan Timoteus is vandag steeds relevant. Die skrywer is self ook geteiken deur teistering, kritiek en vervolging. Trouens, binne ’n paar jaar na die skryf van hierdie brief, is die Christene oor die Romeinse Ryk heen doodgemaak weens hul geloof in Jesus. Om ’n Christen te wees, was nog nooit maklik nie, veral wanneer gelowiges hulle teen onreg, geweld en goddeloosheid uitspreek. Hulle word gekritiseer omdat hulle polities in plaas van gelowig optree, en word dikwels met alle krag geopponeer en beveg. Hul stemme word gedemp of stilgemaak, veral waar burgerregte onderdruk en persoonlike vryheid beperk word. Die woorde van 2 Timoteus is vandag baie belangrik in ons wêreld, veral wanneer mense deur hul eie vooroordeel verblind word en verlam word deur hul eie tekortkominge of vrese.

So, hoe weet jy wanneer om op te staan teen ongeregtigheid of onderdrukking? Die skrywer gee die antwoord in 2 Timoteus 3: 16-17: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Die Woord stel jou in staat om, tydig en ontydig, gereed en toegerus te wees vir ’n lewe in diens van God. Die Heilige Gees gebruik die Woord sodat jy altyd ten volle toegerus is om alles te kan doen wat God oor jou pad bring om teen onreg, geweld en goddeloosheid te getuig, al word jy dikwels ’n teiken vir teistering, kritiek en vervolging.

Dit is dié fokus wat ook aan Timoteus die krag gegee het om in vervolging vas te staan. Die wêreld en samelewing waarbinne ons leef, moet die waarheid hoor dat God genadig is, dat sondaars ’n Verlosser nodig het, dat Jesus die Verlosser is, en dat die wêreld geheel en al in gehoorsaamheid aan Hom onderwerp moet word.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

af
af
Deel met behulp van
Copy link