Matteus 6: 19-21

Filosowe was nog altyd gefassineer deur die vraag na die verhouding tussen die materiële en die geestelike. Wat is nou eintlik die belangrikste: dinge wat ons kan sien en aan vat – die aardse materiële dinge – of die geestelike en spirituele, die onsigbare dinge? Ons Christelike waardes maak dat ons instinktief wil sê, natuurlik stel die Here nie in aardse dinge belang nie en daarom moet God se kinders nie aardse skatte najaag nie. Maar wat is ’n koninkryk sonder skatte dan werd?

Die geboorteverhaal van Jesus vertel vir ons hoe wyse manne waardevolle geskenke vir Jesus en sy familie bring; geskenke wat by ’n koning pas. Tog lyk dit na ’n sydelingse opmerking eerder as die fokus van die geboorteverhaal. Wanneer ’n vrou baie waardevolle olie oor Jesus se kop uitgiet (Matt 26: 7), val die klem nie op die olie se waarde nie, maar eerder op die betekenis van die vrou se aksie: Sy salf Jesus vir sy dood. In Jesus se wandel op aarde val die klem nooit op die besit van aardse skatte nie. Dié wat wel aardse rykdom en skatte besit, word nie veroordeel nie, maar gewaarsku om eerder hul skatte tot voordeel van die armes aan te wend (Matt 19: 21).

Waarna verwys Jesus dan as Hy van skatte in die hemel praat? Hemelse skatte verwys na geestelike waardes wat pas by die lewens van mense wat deel wil wees van die koninkryk van God. Om deel te wees van die koninkryk van God vereis dat ’n mens die wil van God die Vader doen (Matt 7: 21). God se wil is dat ons vir Hom lief sal wees en vir ons naaste soos onsself. Optrede en lewenswyses wat ooreenstem met die wil van God, maak dat ’n mens in geestelike rykdom toeneem en al meer gelyk kan word aan wat Christus van ons vra.

Paulus moedig gelowiges aan om hul gedagtes te rig op alles wat goed, reg, edel en mooi is (Fil 4: 8). Daarin lê die skatte van die koninkryk van God.

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos

af
af
Deel met behulp van
Copy link