Lukas 23: 26-43

Ek het nooit gedink dat ek myself ooit van snobisme sal aankla nie. Ek was nog altyd van mening dat alle mense hul broeke een broekspyp op ’n slag aantrek, maak nie saak wie of wat jy is nie. So, diegene wat my ken, sal weet: ’n Snob is ek beslis nie! Maar toe vang ek myself dat ek tog op ’n keer dink ek is beter as iemand anders. En dat ek, neus in die lug, so ’n persoon nie in my teenwoordigheid wil toelaat nie.

Ek het gedink ek is dit met Jesus eens toe Hy vir sy dissipels sê: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie (Matt 25: 45). Maar ek betrap myself dat daar een kategorie mens is waarmee ek so effe sukkel. Die tronkvoëls! Moes Jesus nou juis die ouens in die tronk ook insluit?

Ek probeer myself oortuig dat Hy dalk maar diegene bedoel het wat nie so ’n verskriklike groot misdryf gepleeg het nie. Soos Paulus, wat in die tronk was omdat hy die evangelie uitgedra het. Of dalk die diewe wat net gesteel het omdat hulle honger was. Of die persoon wat uit selfverdediging geskiet het om lewens te beskerm. Maar rowers, moordenaars, pedofiele, verkragters en sulke tipe ouens?

Jesus het gesê: Ek was in die tronk, en julle het My nie besoek nie. En aan die krimineel wat saam met Hom gekruisig is: Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees!

Jesus het nie die onderskeid getref nie, maar moes Hy nie dalk nie? Is dit nie ’n oorsig van sy kant af wat ons behoort reg te stel nie? Ek dink sowaar dat ek die genade meer as sulkes verdien! Watter patetiese snob is ek nie!

Gebed

Here, ek verdien nie u liefde nie. Ek veroordeel en dink ek is beter as ander. Leer my dat u genade vir almal genoeg is. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

af
af
Deel met behulp van
Copy link