Romeine 8: 18-30

Romeine 8 beweeg van ’n lewe deur die Gees na ’n toekomsverwagting deur die Gees. In hierdie gedeelte gaan dit oor die toekomsverwagting, maar dit kan eintlik alleen verstaan word in die lig van die hier en nou. Die twee, die nou en die toekoms, is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Die nou gaan nie net oor vandag nie, dit loop uit en eindig met die koms (wederkoms) van die Here.

Ons beleef die hier en die nou egter intens. Die gelowiges in Rome vra klaarblyklik hoekom hulle so erg moet ly weens hul geloof. Die apostel bemoedig hulle met ’n weegskaalvergelyking. As die lyding van nou baie swaar op die skaal weeg, is dit steeds niks in vergelyking met die gewig wat die heerlikheid in die toekoms gaan inhou nie. Hierdie verwagting word so beeldryk beskryf dat die apostel die skepping  as ’n persoon laat optree. Die ganse skepping, net soos ons as gelowige mense, sien met groot afwagting uit na hierdie heerlikheid.

Daarom lewe ons met hoop. Hoop is die onsigbare werklikheid van dit wat ons glo. Ons sien dit nog nie, maar ons het die waarborg dat dit ’n werklikheid gaan word. Daardie waarborg is God se Gees. Hierdie hoop is amper soos ’n lokmiddel, dit hou jou aan die gang. Die oomblik as dit ’n sigbare werklikheid word, verdwyn die afwagting en opwinding. Jy hoop net solank iets nog uitstaande is. Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding (vers 25). Daarom behoort ons te besef dat geduld en vertroue ’n baie belangrike deel van hoop uitmaak.

Terwyl ons dan met hoop op pad is, lewe ons as biddende mense, sodat God ons in die geloof kan staande hou. In ons swakheid skiet ons natuurlik ver te kort in hoe en waarvoor ons behoort te bid. Ook hierin kom God ons te hulp. Deur sy Gees skakel Hy ons stotterende en onvolkome woorde in die regte bedoeling om. Met die Gees is ons dus op pad met dié vertroue dat, omdat ons vir God lief is, alles uiteindelik ten goede sal uitwerk.

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link