Job 13: 22, 38: 3

Te midde van Job se radeloosheid op die bittere weg wat hy stap, sê hy vir God: Roep my, en ek sal antwoord … laat ék praat en antwoord Ú my (Job 13: 22). Ken ons nie hierdie gevoel nie? Baie wat al deur lyding gegaan het, van watter aard ook al, kom by ’n punt waar hulle voel om as’t ware van aangesig tot aangesig met God te kom en eens en vir altyd uitsluitsel te kry oor die waaroms en hoekoms van die lewe. Job beleef dit ook: Nóg by homself nóg by sy vriende kry hy egter ’n antwoord waarom hierdie bittere lyding waarin hy hom tans bevind, deel van sy lewe moet wees.

In Job 13: 22 sê Job dat hy die vrae sal vra en dat God hóm moet antwoord, maar in Job 38: 3 kom God aan die woord en sê: Ék sal vra, antwoord jý Mý. En vervolgens sou God omtrent net vrae aan Job vra: Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het ’n maatlyn oor hom gespan? (Job 38: 4-5). Trouens, God het nooit aan Job gesê waarom hy deur sulke lyding gaan nie – God het alleen bly vrae vra wat op die skepping betrekking het.

Uiteindelik het Job later besef dat God eintlik aan hom wou wys dat God die skepping onderhou en versorg – van die kleinste tot die grootste – en dat God nie vir Job sal oorsien nie. Tot so ’n mate dat Job sê: Ek moes luister terwyl U praat. U het gevra, nou moet ek antwoord: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien… (Job 42: 4-5).

Mag dit ook waar wees op ons elkeen se geloofsreis: die berusting dat God geeneen in die skepping oorsien nie. Al het Job sekerlik nooit ’n direkte antwoord gekry waarom hy juis deur soveel lyding gegaan het nie, het hy tog berusting gevind dat God die Here oor die skepping is en hom nie vergeet nie.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Weltevreden

Share via
Copy link
Powered by Social Snap