Lukas 2: 22-38

Daar is vyf besondere liedere rondom die geboorte van Jesus in die Bybel opgeteken. Elisabet se lied is ’n lied van liefde waarin sy Maria die moeder van haar Here noem. Die loflied van Maria is ’n lied van geloof, en sy besing die grootheid van die Here. Sagaria se loflied is ’n lied van hoop. Simeon loof God met vreugdevolle selfoorgawe. En dan is daar die loflied van die engele wat aan God al die eer toebring.  

Simeon besing in sy lied die groot dade van die Here. Hy verkondig die betekenis van die koms van Jesus. Sy koms het nie net betekenis vir Israel nie,  maar ook vir die heidene, die wêreld buite Israel. Hy noem Jesus se koms u verlossing en omskryf dit met die woorde lig en eer. Vir die nasies is Hy ’n lig. Hy is die ware kennis van God, Hy is heiligheid en liefde, ’n vreugde soos nog nooit vantevore beleef nie. Vir Israel is Hy tot eer. Uit hierdie volk sou die Christus, die lig vir die wêreld, gebore word. Die geboorte van Jesus is tot eer van die volk Israel.

Josef en Maria was verstom oor alles wat Simeon gesê het. Vir die eerste keer word daar gepraat oor die betekenis van Jesus se geboorte vir die wêreld. Hy kom om mense voor ’n beslissing te stel. Dié wat Hom verwerp, sal val, uitgesluit uit die koninkryk. Dié wat in Hom glo, sal opstaan en verwelkom word by die bruilofsfees in die koninkryk.

Om hierdie loflied van Simeon af te rond, was daar ook nog die profetes Anna, wie se naam genade beteken. Sy het nooit van die tempel af weggebly nie en God dag en nag gedien. Sy dank God oor die Kindjie, en sy het ook uitgesien na die verlossing van Jerusalem. Nou het hierdie verlossing gekom en sy kan nie uitgepraat raak daaroor nie.

Ook ons moet God loof vir sy verlossing. Soos Simeon, moet ons onsself in vreugdevolle selfoorgawe aan God gee. Oor hierdie verlossing kan ons nooit uitgepraat raak nie.

 

Ds Willem Kok, Potchefstroom

af
af
Deel met behulp van
Copy link