Romeine 7: 23-25

Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here (Rom 7: 24).

Lena Jonsson Spang skryf in ’n treffende gedig, “Brief aan my Skepper”, soos volg: Here, ek staan voor U soos ’n kaalvoet kind – by selfondersoek het ek weinig gevind om aan U te bied. Ons staan inderdaad met leë hande voor die Here se deur. Niks wat ons doen, sê of besit, kan by Hom iets verdien nie. Hy laat ons nietemin, soos ’n kind by ’n ouer, welkom voel. Hy skep ’n atmosfeer waar warmte, hartlikheid en aanvaarding die norm is. Anders as in ander godsdienste waar goeie dade en ’n rein lewe die vereiste is, gee die Here alles wat ons nodig het onverdiend aan ons. Hy gee vir ons alles wat ons nodig het wanneer Jesus ons kom vrymaak van die ellende van die donker wêreld, en ons lewens kom verlig met sy boodskap van hoop. Die harde werklikheid word mos verhelder met sy genade en bevryding.

Lena Jonsson Spang skryf verder in haar gedig: …sonder pretensie totaal afhanklik van u genade. Dit is vertroostend en bemoedigend om te weet dat ons maar net soos ons is, sonder maskers of voorgee, met vrymoedigheid, na die Vader kan gaan. Daar is soveel deure wat die afgelope paar jaar vir ons toegegaan het. Soveel geleenthede, en daarmee saam hoop, wat in die sand van die lewe weggesink het. Soms maak dit stuk vir stuk weer oop, of nuwe moontlikhede realiseer selfs. Soms sal dit nooit weer oopgaan nie. Die Here se deur is egter altyd oop en daar staan te alle tye Welkom! daarop geskryf.

Gebed

Here, in absolute magteloosheid en weerloosheid kom ons na U met die wete dat ons altyd welkom is. Dankie dat U ook die donker van hierdie wêreld met die Lig van ons Here Jesus verhelder. Amen.

Ds David Barnard, Magaliesmoot

Share via
Copy link
Powered by Social Snap