2 Konings 6: 1-7

Hierdie was ’n moeilike tyd in Israel se geskiedenis. Die konings van daardie tyd het nie meer omgegee oor God se woord nie. Dis dan eintlik snaaks dat die profete meer geword het, dat die vertrek te klein geword het waar Elisa die jong profete moes oplei. Hy het ingestem dat hierdie jong profete die vertrek kon groter bou en hy het selfs saamgegaan toe hulle gaan hout kap. En toe gebeur dit dat ’n byl in die water val, en hierdie jong profeet kon dit nie vervang nie. Ons lees dan dat Elisa hom gehelp het, maar dan gebeur daar iets baie eienaardig. Elisa het vir die jongman ’n opdrag gegee: Haal dit uit. En die jong profeet het gebuk en die byl uit die water gehaal. Hier het iets baie spesiaal gebeur. Die Here het ’n wonder deur Elisa gedoen, en Hy het die jong profeet daarby betrek.

Kan die Here ’n wonderwerk deur ons ook laat gebeur? Natuurlik! Die beter vraag is, is ek bereid om soos die jong profeet my hand uit te strek en dit te vat? Dis nie altyd so maklik nie. Ek het dalk seergekry en oor tyd het ek geleer om nie te vertrou nie. Dalk sal ek vergeef, maar nooit vergeet nie. Dalk twyfel ek in God se liefde vir my. Kan die Here deur ’n nietige sondaar soos ek werk? Natuurlik kan Hy, die onmoontlike is vir God moontlik. By God kan daar geloof en vertroue wees, selfs al kry ek swaar. Daar kan opregte vergifnis en verdraagsaamheid wees. Daar kan versoening tussen vyande wees. Ek kan weer bemoedig en versterk word en kans sien vir die dag.

Ons kan ook vandag betrokke wees by die Here se werke. Ons kan die Here se teenwoordigheid en betrokkenheid in ons eie lewens ervaar, en ons kan vir ander ook ’n wonderwerk laat gebeur. Is ek bereid om soos die jong profeet my hand uit te strek, en dit te vat?

Ds Pieter Rossouw, Sannieshof

af
af
Copy link