Handelinge 16: 25-34

Dit is darem die toppunt van onregverdigheid! Paulus-hulle is geslaan en oorgegee in die hande van ’n harde tronkbewaarder wat hul voete in ’n blok gesit het. En al wat hulle gedoen het, was om die goeie boodskap van Jesus te verkondig en ’n vrou te bevry uit die mag van ’n bose gees wat die oorsaak was dat mense haar kon misbruik! Dit is voorwaar ’n rede om moedeloos te voel en te kla! Maar wat doen hulle? Hulle sing lofliedere. Hoe kry hulle dit reg? Hulle het erns gemaak met dit wat hulle verkondig het: die geloof dat God werklik in hul lewe besig is.

Dan gebeur die verstommende! Daar is ’n aardbewing wat die tronkdeure laat oopgaan en hul boeie laat losraak. Hoe anders lyk die prentjie dán nie! Die geharde tronkbewaarder word ’n patetiese mens wat homself wil doodmaak, hy val bewend voor hulle neer en word daarna saam met sy huisgesin jubelende gelowiges. Dieselfde hande wat hulle in die blok gesit het, verpleeg sagkens hul wonde.

Die lewe kan soms snaakse draaie met ons maak. Ons hoor soveel verhale van geweld, pyn en ongerief; soveel verontregting vind plaas! Daar is rede om te kla oor die onregverdigheid en liefdeloosheid rondom ons. Dit is menslik dat ons gesprekke dikwels gaan oor harde mense en slegte omstandighede. Dis verstaanbaar om te voel dat ek nie so iets nodig het in my lewe nie! Sulke gedagtes maak jou knieë lam sodat jy jou doel verloor. Ons het ’n keuse om óf moed te verloor, óf soos Paulus-hulle ’n ander werklikheid raak te sien en lofliedere te sing. Van hulle is gesê dat toe hulle lofliedere sing, het die ander gevangenes geluister. Behalwe dat lofliedere en ’n positiewe gesindheid koers gee, laat dit mense dikwels ook luister. Dit is dan dat ons besef dat iemand wat soos ’n ongenaakbare vyand lyk, ’n onseker mens is wat uit selfbeskerming kies om dorings uit te steek. So iemand het juis ons hulp nodig. 

Dr Piet van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link