Job 38-39 (AFR2020)
Ek wil hierdie week veral stilstaan by ontsag en verwondering vir God. Dit is nie net die fondament vir wysheid nie, maar ook die spil waarrondom geloof wentel. Ons sal elke dag ’n ander aspek van hierdie gelaaide terme bekyk. Op die laaste dag in die kerklike jaar waar ons God se werk in die skepping bedink, wil ek begin by die verwondering vir God se skepping. Die grootsheid van God se skepping word met digkuns in Job 38 tot 41 beskryf.
Die boek Job is vir baie mense ’n gewigtige boek om te lees, juis omdat dit Job se lyding beskryf. Ons almal ken Job se verhaal. Sy vriende probeer hom oortuig dat hy gestraf word vir iets wat hy verkeerd doen. Job en sy vriende voer debat oor God en oor hoe God te werk gaan. In daardie tyd het die mense geglo (soos baie mense vandag nog glo) dat ’n goeie lewe gewaarborg is vir dié mense wat goed lewe. Boeke soos Job en Prediker is juis geskryf om daardie wanpersepsie te ontbloot.
Nadat Job saam met sy vriende God probeer ontrafel het, en Job selfs so ver gaan om te sê dat God hom moet antwoord (Job 31: 35), antwoord God hom wel. Dit is interessant dat God hom nie ’n pertinente antwoord gee nie. God praat met hom uit ’n stormwind en wys hom op die grootsheid van die skepping. Die Skeppergod vra vir Job of hy dink dat hy, wat nie eens die skepping kan beheer nie, opgewasse is om God onder kruisverhoor te neem.
Wanneer Job bewus word van God se grootsheid en almag, vou hy sy hand oor sy mond en erken nederig dat hy uit sy beurt gepraat het. In aanskoue van God se grootheid besef hy sy nietigheid en afhanklikheid, tóg vind hy berusting in die wete dat hierdie Skeppergod ook sy lewe beheer.
Waar daar verwondering vir God se skepping is, is daar spontane ontsag vir God en dankbaarheid vir sy genade.
Gesang 464
Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria