Johannes 8: 31-47
Is jy die mens wat God jou bedoel het om te wees? Leef jy, of bestaan jy maar net? Blom jy op die plek waar God jou geplant het?
’n Plant floreer in goeie grond, met net die regte hoeveelheid sonlig, die regte dreinering. en so meer. Wanneer jy daardie selfde plant na ’n ander deel van die tuin verplant, waar die omstandighede minder gunstig is, sal dit dalk oorleef, maar dit sal nooit floreer nie. Die blare, die blomme, die vrugte – die plant in sy geheel – sal nooit tot sy reg kom nie. Die prentjie van ’n plant wat floreer (of nie), is ’n goeie manier om na ons lewens te kyk. Vra jouself af: Is jy besig om te groei? En leef jy werklik dié lewe, wat Jesus vir jou gegee het? Dié lewe waarvoor Jesus gesterf en opgestaan het?
Dit is ’n ongemaklike vraag. Probeer om dit eerlik te beantwoord. Ons lees in Johannes 8: 31 en 32: Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”
Een van die grootste redes waarom mense wat in Jesus glo, nie regtig floreer nie – nie regtig die oorvloedige lewe leef wat Hy vir hulle kom gee het nie – is dat hulle nie na Hom luister nie. Hulle leef die lewe wat die wêreld daarbuite as suksesvol bestempel. Die lewe van ’n gejaag na wind – wat uiteindelik niks oplewer nie.
Wanneer jy bereid is om die beginsels wat Jesus ons kom leer het, regtig jou eie te maak en dit as die waarheid aanvaar, begin jy dit uitleef en is jy gehoorsaam aan Hom. Dit maak jou vry. Vry om te leef, vry om lief te hê, en vry om te vergewe. Uiteindelik begin jy blom. Uiteindelik word jy die mens wat Hy jou gemaak het om te wees.
Ds Errol Sheppard, Rietspruit
