Hebreërs 12: 1-3

Die doel van dié brief is duidelik: Gelowiges moet in die geloof volhard, ten spyte van en selfs te midde van alle beproewings. In die wedloop van hierdie lewe is daar die skare van geloofsgetuies wat ons aanmoedig, maar ook herinner hoe hulle deur die geloof gedra is en hul geloof kon behou, ten spyte van die werklikheid dat hulle nie altyd die einddoel kon sien nie. Die skrywer sluit die vorige hoofstuk (11: 40) af met die perspektief dat hulle nie alles verkry het wat belowe is nie, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie. Merkwaardig, nie waar nie? God wou ons ook betrek in die geloofswedloop, maar nou nadat die Voleinder reeds verskyn het.

Dit kan nie anders nie – dit moet alles begin en eindig by Jesus Christus. Hy is die Begin en die Voleinder van die geloof. Hierdie wedloop kan net op een manier voltooi word. Die oog moet net op Hom gehou word. By Hom vind ons dat Hy soos alle mense ook versoek is, Hy het gely, Hy het die kruis verduur sonder dat die uitkoms sigbaar was. Hy het nie daarvoor teruggedeins nie. En wat was toe die heerlike afloop? Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God, verheerlik tot Koning. Daar is net een weg tot die bereiking van God se doel met ons: Ons moet Hom voor oë hou!

Dit beteken vir ons dat ons ten volle daarmee moet rekening hou dat Jesus Christus nie net die Verlosser van die sonde is nie. Daardie roeping het Hy volmaak en eens en vir altyd voltooi. Maar Hy is ook voorbeeld van hoe geloof kan en moet volhou word. Hy het deur die worsteling gegaan om selfs te vra of die bitter beker van vernedering en lyding Hom nie tog gespaar kon word nie. Hy moes ook onder die moeilikste omstandighede denkbaar vashou daaraan dat Hy besig was om die Vader se wil te volvoer – al kon Hy ook nog nie die afloop self sien nie.  Selfs Jesus moes ter wille van ons leef met die perspektief: Glo is sien!

Prof Piet Geyser, Emeritus/Meyerspark

af
af
Deel met behulp van
Copy link