Matteus 2: 1-12

Matteus skryf die Jesus-verhaal nie vir sy eie mense nie, maar vir mense met die vinger op ons deurklokkie. Vir mense wat nie welkom is nie. Uit die oogpunt van die wyse manne, is dit mense wat te ver weg staan van die warm hart van die Jodedom af. Onthou hoe Israel oor heidene (nie-Jode) gevoel het. Hulle was tweederangse mense. Dit is byna ondenkbaar dat ’n storie oor heidense slimmigheid tog ’n plek gekry het in die geboorteverhaal van Jesus. Die wyse manne gaan Betlehem toe om die pasgebore koning te sien. Hulle pak selfs geskenke in.

Die rede waarom Matteus hierdie verhaal só skryf, is om vir die nie-belangrikes en eenkantmense te sê: God is ook húl God. God is naby, ewe naby, aan ons almal. Al die tekens dat Matteus dit so bedoel het, is daar. Geen bed-en-ontbyt vir ’n vrou wat hoogswanger is nie. Geen eie familie wat moeite doen nie. Tog kan vreemdes uit ’n onbekende land weer nie genoeg moeite doen nie… Die staatshoof, Herodes, moor sy eie volk se kinders uit omdat hy geen kompetisie vir sy kroon duld nie. Die vreemdelinge wat van ver kom, kom om ’n pasgebore Koninkie te dien en aan Hom hulde te bewys, al is hulle niks aan Hom verskuldig nie.

Laat niemand julle wysmaak dat julle tweedeklas-Christene is nie! God se evangelie van genade het nie grense nie. Immanuel is God by ons almal. God praat met die heidene in die sterre. Dit is hierdie heidene wat die Jesuskind van die eerste sluipmoordaanval red. As God so na aan die heidene kom, sal ek jou van Betlehem uitsluit en jou die Immanuel nie gun nie? Sal ek jou uitsluit met ’n Kersfees net vir my en myne, en ’n Immanuel wat net en uitsluitlik “God by my” beteken? Dan is ek erger as die Jode. Eers as ek kan sê dat jy nie ’n groter heiden of sondaar as ek is nie en dat God se genade vir ons albei daar is, eers dan is ek gelowig. Eers dan is ek iemand wat die betekenis van Immanuel verstaan.

Mag God met ons almal wees in 2020.

Gesang 321

Ds Jacques Pieterse, Laer Suidkus

af
af
Deel met behulp van
Copy link