Galasiërs 5: 13-14

Geloof kan maklik vervlak. Dit gebeur wanneer ons God se stem nie meer hoor nie en bloot meganies volhou met godsdienstige rituele. Of wanneer die rituele vir ons die sentrum van ons geloof word: ’n erediens met ’n vaste liturgie elke Sondag, ’n tafelgebed (dikwels maar sommer afgerammel), ’n huwelikseremonie met ’n kort boodskap en ’n lang onthaal, ’n doopgeleentheid met meer foto’s as betekenis.

Dit raak selfs erger as ons met mekaar begin stry oor die details van ons godsdienstige seremonies – die hoeveelheid water by die Doop, die beker of kelkies by Nagmaal, wyn of druiwesap…

In wese is dit waaroor Paulus in die Galasiërsbrief skryf. Daar het mense gekom wat ’n groot saak van die Joodse besnydenis en ander wettiese godsdienstige reëls wou maak, en dit lei tot ’n gruwelike gestry in die gemeente. Paulus wys driftig daarop dat sulke godsdienstige rituele en gewoontes mense net verslaaf, terwyl Christus se dood en opstanding hulle juis daarvan vrygemaak het.

Gelowiges moet na God se stem soek, en nie godsdienstige sekuriteit in rituele nie. En wat vra God? Liefde vir Hom, en liefde vir elke ander mens. Want so dien ons mekaar, en so dien ons God waarlik.

Wanneer ons godsdienstige gebruike help om God se stem te hoor en sy liefde te ervaar, bou dit ons op in die geloof. Maar wanneer godsdienstige rituele – selfs sakramente – so belangrik raak dat ons glo dit is vir ons redding nodig, het ons teruggeval in mensgesentreerde godsdiens. En op dié manier raak ons mettertyd afgestomp, terwyl ons God ook vir die mense om ons laat verstom en verduister. Dan hoor hulle God ook nie meer nie, dan spreek Hy hulle nie aan nie.

Daarteenoor gaan mense se oë en ore oop vir die liefdevolle roepstem van God wanneer ons dien, wanneer ons help, wanneer ons omgee en uitreik.

Dr Wouter van Wyk, Sinodaal

af
af
Deel met behulp van
Copy link