Matteus 11: 25-30

Natuurlik sal ons graag wil luister as daar rus belowe word vir almal wat vermoeid en swaar belas is. Daar is immers soveel onrus in ons wêreld, wat ons moeg en selfs siek maak! Om van Jesus te leer hoe om rus te vind vir jou gemoed, vra van jou om sy juk op te neem. ’n Juk is mos ’n stuk gereedskap, gewoonlik van hout, wat op ’n trekdier se skof gesit word. Dan word daar kettings of toue daaraan vasgemaak om ’n vrag soos ’n ploeg of ’n wa te laat beweeg. Volgens Jesus kom die rus wanneer die juk opgeneem word. Dit voel soos ’n teenspraak. Begin die rus nie as die juk afgehaal word nie? Dink baie mense dalk so oor Jesus se juk wat soms krag en tyd vra? Redeneer jy ook soms dat daar soveel dinge is wat skaaf en druk, dat daar nie plek en nie die lus is vir nog ’n juk en nog ’n las nie?

Wie so dink, verstaan die beginsel van ’n juk verkeerd. Eintlik maak ’n juk dinge nie swaarder nie; dit is nie daar om te martel en onnodig moeg te maak nie. ’n Juk wat pas, is daar om dinge makliker te maak, om ’n vrag aan die beweeg te kry, dit wat andersins onmoontlik sou wees. Wat die mensdom oorlaai en uitput, is die las van die lewe; daaraan dra elkeen van ons, van die wieg tot die graf. Hoeveel geknakte mense is daar nie met skaaf- en kneusplekke aan hul persoonlikhede!

Elkeen van ons het ’n juk nodig om die las van die lewe te help trek. Op geen ander wyse kan ons die lewe hanteer nie! Jukke dra ons almal. Die vraag is net of dit die beste een is; of dit die een is wat werklik by jou en jou doel pas omdat jou Skepper dit gemaak het. Soveel mense het al met groot dankbaarheid ervaar dat om werklik van Jesus te leer, nie neerdruk nie, maar oplig en laat inpas.

Dr Piet (PJ) van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link