1 Samuel 20: 35-43

Die wêreld rondom ons is dikwels met onvrede gevul. Wat het van ons vrede geword? In die plek van vrede het ons al hoe meer begin toelaat dat ongesonde haat, vernietigende hoogmoed en doelbewuste ongehoorsaamheid ons lewens vul. Ons soek na vrede, ons praat oor vrede, ons wens dit in boodskappe vir mekaar toe, maar leef ons nog God se vrede na ons medemens toe uit? Is dit ooit nog vir ons belangrik om in vrede te lewe?

Die woord vrede kom meer as 193 keer, in verskillende vorme, in die Bybel voor. Die begrip beteken in sy oorspronklike vorm om ’n lewe van harmonie te leef. Onmiddellik word dit vir ons ’n aanduiding dat vrede onlosmaaklik deel van ’n gelowige se lewe behoort te wees. Dit is God se wil dat mense in vrede met Hom, met mekaar en ook met hulself moet leef. Die vertikale vrede met God, word die dryfkrag vir die horisontale vrede met ander mense, maar ook met myself.

In die gelese gedeelte neem Dawid en Jonatan van mekaar afskeid. Hulle moet juis ter wille van vrede van mekaar afskeid neem, sodat Saul se haat en woede teenoor Dawid kan bedaar. Wanneer hulle op die punt is om te vertrek, wens Jonatan vir Dawid vrede toe vir sy reis met die woorde: Gaan in vrede. Met hierdie woorde vertrou hy Dawid aan die vrede van God toe en wens hy hom ’n lewenspad van vrede toe. Dit word nie net ’n vinnige groet nie, maar ’n opregte handeling, waar hierdie vriende dit in God se Naam vir mekaar bevestig en toewens. God gee inhoud aan hierdie vrede, maar Hy word ook die waarborg van die vrede.

Jy sal presies weet hoe die vrede lyk waarna jy vandag op soek is. Jy sal weet of dit bloot tydelike vrede is ten koste van iemand anders se geluk, en of dit die ware vrede is wat God gee. Leef sy vrede uit, al is daar dalk op die oomblik onvrede in die samelewing, in jou huis of by die werk. Mag ons as gemeenskap van gelowiges elke dag God se vrede nie net vir mekaar toewens nie, maar dit in alle opsigte vir mekaar wys!

Ds Marius Kramer, Krugersdorp-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap