Efesiërs 5: 6-20

In die soeke na die koninkryk kan ons onsself flous en dink dat die koms van die koninkryk ’n droom is wat nog bewaarheid moet word. So asof ons dink die koninkryk is nog aan die kom, eendag ver van nou af – iewers in die toekoms sal die wonderlike heerskappy van God deurbreek en dan eers sal Hy as Koning regeer. Die werklikheid is dat die koninkryk reeds aangebreek het en dat ons nou reeds deel daarvan is.

In Jesus breek die verlossing aan met die Gees wat ons lewe nuut maak. Die lig van die evangelie verlig ons lewe en lê die sonde bloot; nie om ons skaam te maak nie, maar om ons daarvan bewus te maak dat ons nou moet lewe soos mense van die lig (Ef 5: 8). Mense wat nuut lewe, lewe hier en nou reeds op aarde soos mense wat deel is van die koninkryk van God. In ons alledaagse lewe soek ons nou reeds na die wil van God, streef ons daarna om te lewe soos dit vir Hom aanneemlik is (Ef 5: 17). Ons soek nou reeds op aarde na elke geleentheid (Ef 5: 16) waar ons die lig van die evangelie kan laat skyn sodat mense hulle kan onderwerp aan die heerskappy van Christus.

Ons hoef nie meer te droom oor die koms van die koninkryk wat iewers in die toekoms lê nie. God vra van ons om wakker te word uit die slaap waarin ons nog droom oor die koms van die koninkryk (Ef 5: 14) en te begin leef soos mense wat reeds deel is van sy ryk.

Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dood,

laat Christus se lig in jou léwe!

Hy wek jou en roep jou, o mens in jou nood –

Hy oordeel as regter verhewe.

Ontwaak en staan op, die gevaar is so groot –

wie kies, o verdwaasde, bo lewe die dood?

(Gesang 481: 1)

Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria/Centurion-Oos

af
af
Deel met behulp van
Copy link