Esegiël 37: 1-14
Op Paassondag hoor ons die stem van die Here ons God wat vir die bene sê: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe (vers 5). Hiérvan getuig die opstanding van Jesus Christus – wat dood was, het lewend geword, wat in die graf was, het uitgekom, deur God se krag word Christus opgewek, oorwin Hy die dood, die sonde, die bose.
In Esegiël 37 kry ons ’n Ou Testamentiese visioen wat vir ons ’n opstandingsboodskap bring, wat vir ons in aangrypende beelde die implikasies van die opstanding skets. Hierdeur bring die profeet Esegiël ’n boodskap van hoop, ’n boodskap van lewe. ’n Paar eeue jaar later, word Esegiël se visioen ’n werklikheid in Jesus Christus se opstanding. Die geestelike verval en doodsheid wat die sonde bring, word gekruisig. Dit word finaal tot niet gemaak in die opwekking en oorwinning van Christus. Ook ons spreekwoordelike droë en dooie bene kry in die opstanding van Jesus vleis, senings, vel en bo-al lewensasem deur die Gees. So herskep God in die opstanding van Jesus ons tot nuwe lewe, ewige lewe. Dit is die hoop en troos en belofte wat die opstandingsevangelie vir ons bring. Waar ons soms ook vasgevang voel in die gebrokenheid en weerloosheid van ons menswees, in die verlies en seer van die lewe, verswelg deur die sonde, is die gekraak van droë bene nie die laaste geluid wat ons hoor nie.
Maar is die opstanding dan bloot ’n vreugdefees waarin ons ’n sug van verligting uiter soos wat die Golgota-gebeure kwyn tot ’n vae herinnering? Nee, die opstanding is eerder ’n viering van die sonde-gebrokenheid wat God herskep tot ’n mosaïek van genade en redding. ’n Mosaïek van droë bene waaruit nuwe lewe spruit. Slegs wanneer ons lewe vanuit die bron van ons geloof, die opgestane Christus, sal ons die mosaïek in sy geheel kan sien. Dan sal ons nie vaskyk in ’n dooie laagte met verdroogde bene nie, maar eerder in ons geestesoog die lewe en oorvloedige redding, die ewig’ heerlike toekoms sien wat God in Christus vir ons moontlik maak.
Ds Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom