Eksodus 16: 1-21

Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die kamp vol gesit. Die volgende oggend was daar ’n wolk rondom die kamp, en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” (verse 13-15).

Ons ken die verhaal van Israel se ontberinge in Egipte en hoe God hulle deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het: Israel stap droogvoets deur die Rietsee. Hulle kom dors aan by Mara wat “bitter” beteken van die bitter water daar. God maak nie alleen die bitter water drinkbaar nie, maar soet. Hulle raak honger, en God voorsien kwartels en manna. Die manna was nie net eetbaar nie, maar lekker soos heuningkoek (Eks 16: 31).

Israel bekla hul lot op hierdie reis na die beloofde land. Hul gemoed is bitter soos die waters van Mara en hulle verlang terug na die vleispotte van Egipte – dít terwyl hulle die soetwater van Mara, die kwartels en heuningkoekmanna en later water uit die rots en vele ander wonderwerke van God totaal miskyk! Hulle kla… Hulle het baie vrae: Wat is dit dié? wat “Manna” in Hebreeus beteken, vandaar die naam van die fyn vlokkies brood. Maar soos ons ook sien, vanuit die “Manna-vrae” van Israel is God getrou om hierdie vrae in “Manna-uitroepe” te verander deur Israel te gee wat hulle nodig het vir hul pad deur die woestyn.

Geliefdes, só reis ons ook deur die lewe. Ons het talle “Manna-vrae” en bekommernisse langs die woestynpad. Maar mag ons opnuut die wonders wat God alreeds op ons pad bewerk het, raaksien tot waar ons nou is in hierdie reis. Mag ons ook die tye in ons eie lewe waar bitter water as’t ware soet gemaak is, nie miskyk nie – en van manna en kwartels en water uit ’n klip. Skep moed vanuit die put van God se oorvloed dat ons op die lewensreis kan volhard met die wete dat God met ons is op hierdie reis.

Ds Rudi Janse van Rensburg, Weltevreden

Share via
Copy link
Powered by Social Snap