Psalm 121

Nêrens op moeder aarde is ons veilig nie. Ons leef agter slot en grendel, diefwerings en elektriese heinings. Volg jy nuusgebeure van die dag, besef jy dat die wêreld waarin ons woon ’n gevaarlike plek geword het. Moet ons nou moedeloos en vreesbevange raak? Nee.

Die pelgrimsdigter sê met soveel geloofsekerheid: Hy kyk na die berge en hy weet, die almagtige Skepper van hemel en aarde is oral. Hy is nie aan die slaap nie, en die digter glo dat God hom beskerm. Die pelgrimsreisiger kyk dalk vas teen die berge, maar die uitnodiging is om verby, bo-oor die berge, te kyk na die Skepper van hierdie berge, die Skepper van hemel en aarde. Hierdie Skepper is tegelykertyd ook Beskermer en Verlosser van Israel.

Die uitnodiging is om verder te kyk as net die uitdaging van die krisis, die hoë berge. Die uitdaging is om nie angstig op homself en sy krisis te fokus nie, maar om op te kyk. Dit word eintlik ’n oproep tot geloof om God te sien te midde van die gevaar of krisis. Die pelgrimsreisiger ervaar hoe hy bevry word van sy angs en onrustigheid, en hy vind veiligheid in God.

Iemand het eenkeer gesê: God bewaar ons nie soos porseleinpoppies in ’n glaskas nie. Ons kom nie deur hierdie lewe sonder letsels nie. Partykeer oorleef ons nie eens nie. Maar maak dit van Hom minder God? Hy beloof nie oorlewing nie: Wat Hy wel beloof, is bystand in nood. Maar wat verwag ons van hierdie bystand? Dat ons nooit siek sal word nie, of dat slegte dinge nie met ons sal gebeur nie? Nee, dis deel van die lewe op moeder aarde. Ons kan nie God se teenwoordigheid skep nie, en ons hoef ook nie. Hy beloof dat Hy dit doen en Hy hou sy woord, en dit is genoeg. Hy is by ons en dit maak ons lewe hier op aarde, met al sy moeite en verdriet, die moeite werd.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link