Johannes 20: 19-25

Het die dagstukkiedatums dalk deurmekaar geraak? Hoekom het ons op Pinkstersondag ’n gedeelte wat vertel van Jesus se verskyning aan die dissipels? ’n Gedeelte wat eerder voor Hemelvaart gelees moet word?

Johannes is hier aan die werk met jou gedagtes en hy wil jou daarvan bewus maak dat dinge nie altyd gebeur soos ons reken dit veronderstel is om te gebeur nie. God is groter as jou gedagtes en verras jou op verskeie maniere. Skrifgedeeltes het nie altyd net een doel of plek nie. Lees hierdie paar verse weer rustig deur. Lees jy dit raak?

Christus blaas die Heilige Gees oor die dissipels. Daar is nie ’n aardbewing, ’n babelse verwarring en tonge van vuur soos ons in Handelinge lees nie. Christus, terwyl Hy aan die dissipels verskyn voor sy hemelvaart, blaas die Heilige Gees oor hulle uit.

Waarom? Moontlik omdat ons iets baie belangrik moet onthou; dit wat ons in die vorige dagstukkies ook gelees het. Die werk van die Heilige Gees en dit wat Jesus gedoen het, is nie losstaande gebeure nie – net soos gebeurtenisse in Christus se lewe nie afsonderlik verstaan moet word nie. Die Heilige Gees het Jesus se werk kom voortsit. Deur die hele Johannes-evangelie maak Johannes hierdie eenheid tussen Jesus en die Heilige Gees vir jou duidelik (soos in Joh 6: 63; 7: 39; 14: 25; 16: 13-15).

Christus het die wil van God aan jou kom uitleef en verduidelik – jy moet God lief hê en jou naaste soos jouself. Daarom moet jy die boodskap van Jesus Christus aan almal verkondig – dit is waarmee die Heilige Gees jou help. Jy het die lewe deur Christus ontvang, en nou kan jy dit aan ander gaan gee.

Die wonder van Pinkster: God wil my en jou gebruik om die lewe en liefde te deel, maar Hy rus jou toe met wat jy nodig het – die Heilige Gees. Jy hoef nie bang te wees of alleen te voel nie – God is by jou. Gaan leef deur die Gees soos Christus jou kom wys het.

Ds Joleen Marx, Welgelegen-Pietersburg

af
af
Deel met behulp van
Copy link