Handelinge 17: 16-23

Paulus is verontwaardig as hy deur Atene loop en sien hoeveel afgodstempels, -beelde en -altare daarin is. As hy egter op die Areopagus, die vergaderplek, begin praat, sien of hoor ons niks van afkeer of geestelike hoogmoed by hom nie. Hy sluit aan by iets baie besonders wat hy in Atene teëgekom het, naamlik die altaar Aan ’n onbekende god.

Julle Ateners is darem in alle opsigte baie godsdienstig! begin hy. Hulle was toe seker die ene ore, want hulle was bekend daarvoor dat hulle graag nuwe dinge en veral van nuwe gode wou hoor.

Dat daar bykomend tot al die aanbiddings- en offerplekke só ’n altaar was, is veelseggend. Die sogenaamde “godsdienstigheid” kom eintlik vanuit ’n brandende onsekerheid. Hulle het soveel gode wat hulle tyd en aandag vra, maar was steeds so onseker dat hulle gedink het: As ons ons vasloop en geeneen van ons gode kom tot ons hulp nie, is daar dalk êrens ’n god waarvan ons nie weet nie wat deur ons offers goedgunstig gestem kan word.

Byna lagwekkend, maar eintlik pateties dat mense so onseker kan wees, en dit terwyl die Ateners van die mees ontwikkelde mense van daardie tyd was. Kan ons nie iets daarvan in ons eie ruimte-eeu met al ons kennis herken nie? Daar is soveel ontwikkeling en tog soveel mense wat sonder koers en sin vir die lewe is, wat so jaag en rondgryp! Hoeveel keer spruit ’n sogenaamde godsdienstigheid nie uit ’n brandende onsekerheid nie! Paulus maak in 17: 27 die opmerking dat God mense gemaak het om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Die mens is soekend gemaak, en as hy nie die regte God vind nie, word daar aan plaasvervangers vasgegryp. Enigiets kan ’n afgod word wat aan lewens sin en betekenis moet gee.

Dr Piet van Staden, Emeritus

af
af
Deel met behulp van
Copy link