Psalm 27

Die teoloog Karl Barth het dikwels die frase ecclesia semper reformanda gebruik wanneer hy van die kerk gepraat het. Dit gaan daaroor dat die kerk voortdurend moet hervorm. Om kerk te wees, vra dat ons voortdurend sal hervorm na die eise van God en sy Woord na gelang van nuwe omstandighede, krisisse en samelewings-veranderings. Om dit te doen, verg ’n geloofsheroriëntasie.

In Psalm 27 lees ons van so ’n geloofsheroriëntasie. Die Psalmdigter praat met God in die aangesig van nood, vrees en onsekerheid. In hierdie stadium is die spreker gedisoriënteerd. Hy vra om God se leiding. In ’n poging om sin te maak van sy omstandighede, gebruik die digter verskeie metafore. Hy beskou die Here as ’n lig in die donker en as ’n fort of toevlug wat hom beskerm. Omdat God hierdie rol in sy lewe inneem, is die kern van die digter se verlange om sy lewe lank in die huis van die Here te woon. Die tempel is vir die Psalmdigter ’n plek van toevlug, aanbidding en hernuwing. In God se teenwoordigheid kry die Psalmdigter sekerheid, krag en nuwe hoop. By God heroriënteer hy homself sodat hy eindelik kan uitroep: Ja, ek vertrou op die Here!

Hierdie patroon van disoriëntasie en heroriëntasie vind ons ook in ons lewens en in die lewe van die kerk. Daar is soveel onsekerhede, kommer en traumatiese ervaringe wat ons gedisoriënteerd laat. Dit laat ons wonder oor waarheen God met ons en met die kerk op pad is. Tog getuig Psalm 27 daarvan dat dinge nie op so ’n deurmekaar en hopelose plek eindig nie. Wanneer ons na God draai en ons vertroue op God stel, vind ’n heroriëntasie plaas. Die Here self hervorm sy kinders en sy kerk. Dit gee vir ons die moed om vorentoe te kyk en te bly hoop.

Vol vertroue, vas en veilig, bou ek op die Heer my hoop.

Hy is koning, wat, almagtig, heers oor voorspoed en oor nood:

Hy het my steeds gelei; dankbaar wil ek dit bely.

(Gesang 502: 1)

Ds Marina Kok, Potchefstroom

Share via
Copy link
Powered by Social Snap