Matteus 24: 3-14

Die Here Jesus het gewaarsku dat sy volgelinge uitdagings en moeilike tye in die lewe kan verwag. Die dissipels vra dan vir die Here wanneer die dinge sal gebeur en wat die teken van sy koms en die einde van die wêreld sal wees. Hy het wel die moeilike tye voorspel wat sal aantoon dat sy wederkoms naby is, maar ook gesê hoe gelowiges moet reageer wanneer die dinge gebeur. Hy het hulle gewaarsku teen die valse christusse wat mense sal mislei, vervolging, liefdeloosheid, oorloë, voedseltekorte en natuurrampe wat die geboortepyne van die nuwe tyd aandui. Selfs die verwoesting van die tempel in Jerusalem word as deel van die wederkoms gesien. Dan stel die Here dit duidelik: Wie tot die einde volhard, sal gered word.

Deur die gelowiges vroegtydig te waarsku, toon die Here sy besorgdheid oor sy volgelinge. Gelowiges ken nie die tyd wanneer uitdagings en moeilike tye in die lewe op hul felste sal wees nie, daarom moet gelowiges twee dinge doen: Eerstens moet ons sorg dat ons liefde teenoor God en mekaar nie verkoel en ongeregtigheid en liefdeloosheid ons lewe oorneem nie. Tweedens moet ons ook lyding kan verduur ter wille van die Here Jesus Christus, wat nie teruggedeins het om vir ons sondes te sterf nie.

Ondanks die geskreeu en gespot van die wêreld, volhard gelowiges in hul geloof in Jesus Christus as hul ewige Verlosser en hoor hulle sy lewende Woord om gereed te wees wanneer die wederkoms aanbreek. Watter troos in onseker tye en chaos om te weet: Ons behoort aan die Here en niks of niemand sal ons uit sy hande ruk nie. Dit beteken dat ons elke dag moet waak en bid dat die Heilige Gees aan elke gelowige die krag sal gee om tot die wederkoms te volhard in die geloof, want: Wie tot die einde volhard, sal gered word.

Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente

af
af
Copy link