Johannes 21: 1-14:
In ons kultuur hou ons daarvan om te braai. Ons hou daarvan om saam te eet en te kuier. Maaltye en saam met wie jy eet, was in die wêreld van die Bybel baie belangrik. Jesus het gereeld die orde wat gereguleer het wie saam met wie mag eet, in sy wêreld omgekeer. Jesus het by verskillende geleenthede na sy opstanding saam met sy volgelinge geëet.
By die geleentheid waarvan ons hier lees, het Petrus en van die ander dissipels besluit om in die See van Tiberias vis te gaan vang. Ons word vertel dat hulle die nag geen vis gevang het nie. Op aanbeveling van die man op die strand gooi hulle weer hul nette uit, en vang ’n oorvloed vis. Toe eers besef hulle dat die man op die strand Jesus is.
Op die strand brand daar ’n vuur, en Jesus is besig om vis te braai. ’n Eenvoudige maaltyd van vis en brood, met ’n uitnodiging aan die dissipels om saam te eet. Jesus deel dit wat Hy het met die dissipels. In die saamwees om die vuur het hulle nie nodig om te vra wie Jesus is nie. Hulle het geweet dat dit die Here is (vers 12). Jesus breek die brood, deel die vis. Jesus eet na sy opstanding saam met sy vriende en sorg dat hulle oorgenoeg het om te eet. In Jesus se teenwoordigheid word hulle versterk vir hul pad vorentoe.
Dit sê ook vir ons dat Jesus altyd versorgend teenwoordig is in ons wêreld, in ons lewe. Mag ons ook, wanneer ons braai, aan Jesus dink, en weet dat Hy altyd deur die Heilige Gees by ons teenwoordig is. Gereed is om ons te voed en te versterk met wat ons nodig het, vir ons lewe van elke dag.
Gebed
U het die brood gebreek eens by die meer; breek nou die lewensbrood vir my ook, Heer. Amen.
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten