Genesis 37-47

Dit is baie leeswerk, maar die verhaal van Josef is in geheel so mooi en aangrypend. Josef begin goed in sy lewe, en selfs sy pa trek hom so ’n bietjie voor. Dit maak sy broers egter vies, en die laaste strooi was die twee drome wat Josef gehad en met sy broers gedeel het. Hoe durf die jongste dink ons sal voor hom buig? moes hulle seker gedink het. God het egter vir Josef hierdie drome gegee. Mooi drome oor wat sou wees, later in Josef se lewe, nie nou al nie.

Ongelukkig vir Josef was die pad wat hy moes stap om die droom werklikheid te maak, ’n rowwe stukkie grondpad. Dis gewoonlik ook waar ons mismoedig, ongeduldig en raadop raak, en dan begin ons God bevraagteken en vir God kwaad word. Dis egter omdat ons nie die groter prentjie nou al kan sien nie. Potifar se vrou probeer Josef verlei, en Josef beland in die tronk. Nooit hoor ons dat Josef kla of vir God bevraagteken nie. Hy hou enduit aan om in God te glo, en te glo dat God vir hom die droom sal bewaarheid. Uiteindelik gebeur dit ook, en ons sien dan hoe Josef se broers voor hom buig, en sy pa ook na Egipte toe gaan en weer vir Josef sien.

In vandag se tyd is ons grootste probleem ons eie ongeduld. Ons soek alles nou. Ons vertrou nie genoeg dat die Here in slegte tye sal voorsien nie. Ons moet soos Josef vertrou op die Here in alle omstandighede, en die Here sal vir ons voorsien. Ons moet geduldig wag op die Here wat drome werklikheid maak. Jaag God na, en God sal sy droom vir jou op die regte tyd bewaarheid.

Ds Gustav van Zyl, Phalaborwa

af
af
Deel met behulp van
Copy link