Johannes 18: 15-18, 25-27

Nog voordat die haan drie keer kraai – so onthou ons Petrus in die week voor Jesus se kruisiging, nadat Jesus gevange geneem is in die tuin van Getsemane, en sy verhoor plaasvind. Net buite die deur sê Petrus vir die diensmeisie, hy ken nie vir Jesus nie. Toe by die vuur waar hulle gestaan het om warm te word, het hy ’n tweede keer gesê hy is nie een van Jesus se dissipels nie. Toe ’n derde persoon vir Petrus sê hy het hom gesien in die tuin waar Jesus gevange geneem is, het Petrus weer gesê dit is nie waar nie. Toe kraai die haan. Hy bevind hom waar hy drie maal sê: Ek ken Hom nie. Petrus, een van die driemanskap wat so na aan Jesus geleef het, saam met Johannes en Jakobus. Die teleurstelling moes vir hom so groot gewees het. Jesus, sy Vriend, sy Leermeester, die een vir wie hy so lief was, vir wie hy sy lewe sou aflê. In ’n oomblik van swakheid, van waansin, verloën Petrus vir Jesus.

Die Lukas- en Matteus-evangelie vertel dat Petrus na buite gegaan het en vreeslik gehuil het. Daar was selfverwyt, hartseer, woede, skuldgevoel – ons ken daardie emosies. So moet ons ook berou hê wanneer ons Jesus teleurstel. Ons moet voor Hom bely wanneer ons verkeerd optree. Hierdie belydenis bring vrede tussen ons en Jesus. Jesus verwyt ons egter nie oor dinge wat ons gesê en gedoen het nie, maar begin telkens nuut met ons. Jesus maak vrede met ons wanneer ons Hom teleurstel.

Jesus het nie die foute wat Petrus gemaak het teen hom gehou nie, maar hom steeds gebruik om die Goeie Nuus te bly verkondig, om sy kudde vir Hom op te pas. Petrus word die Rots genoem, die een op wie Jesus sy kerk sal bou. Jesus was lief vir Petrus net soos hy was, foute en al. Soms staan ons ook in Petrus se skoene, vol foute, maar ook vol berou. Jesus het ons steeds lief. Hy gebruik ons steeds om sy Koninkryk te gaan verkondig en sy liefde uit te leef. Hy het ’n opdrag vir elkeen van ons, ten spyte van ons swakhede.

Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos

Share via
Copy link
Powered by Social Snap