Matteus 22: 1-10
Jesus vergelyk die koninkryk van God, en hoe dit in die koninkryk van God werk, met ’n bruilofsfees. In die verhaal is God die Koning. In die gelykenis is die slawe wat God uitstuur om die genooides te roep, die boodskappers van God, die profete wat deur die eeue heen deur God gestuur is. Hulle is gestuur om God se volk – volgens die Ou Testament die Jode – te waarsku en aan te moedig om volgens God se wil te lewe. Die profete het die volk uitgenooi om met opregte harte God te dien.
Telkens het die volk hulle nie aan die woorde van God gesteur nie. Hulle het God se gestuurdes doodgemaak en mishandel en so geweier om na die bruilof te kom. In die wêreld van die Bybel is hierdie hantering van jou koning se slawe gereken as hoogverraad, ’n deklarasie van opstand. Dit wys dat ons, wanneer ons God erken as Koning van ons lewe maar doelbewus nie God se wil doen nie en nie gehoorsaam God se liefde leef nie, besig is met hoogverraad teen God.
Die koning het as gevolg van die reaksie van die volk op sy uitnodiging besluit om die bruilofsfees oop te stel vir almal. Almal is nou genooides, almal mag nou na die bruilof kom. Dit is die boodskap wat Jesus vir die mense van sy tyd en vir ons ook bring. Israel, die volk van God, wou Jesus nie as Verlosser erken nie. Vir die Joodse leiers was die nakom van allerhande wette belangriker as om te hoor dat ’n mens, deur God se liefde en geregtigheid te leef, in God se teenwoordigheid kom, en dat daar by God plek is vir almal, nie net vir Israel nie. Almal is genooides.
In God se koninkryk is daar plek vir ons almal. Ongeag wie ons is, wat ons dalk vroeër gedoen het, roep God ons elke dag om gaste in God se koninkryk te wees. Ons kan nou reeds deel in die vreugde en vrede van God se teenwoordigheid. Hoe reageer ons op die uitnodiging na God se feesmaal?
Dr Annelie Botha, Universiteit van Pretoria / Kempten
