Johannes 21:  20-25

Ons praat deesdae baie in ons kerk oor missionale kerkwees. Ons wil graag aan Jesus se Groot Opdrag aan sy dissipels voor sy hemelvaart gehoorsaam wees om dissipels van al die nasies te gaan maak. Ons verstaan dit meestal so dat ons vir mense van God moet vertel. Ons het die taak om God se Woord bekend te maak (te saai, volgens die gelykenis van die saaier). God doen deur sy Gees die res. Maar is ons taak voltooi as ons mense van God vertel het?

Die God wat ons aanbid, is ’n doen-God. In die Ou Testament ontmoet ons God wat Homself openbaar deur te doen. Om God aan Israel bekend te stel, hoef die hakkelende Moses nie eens te praat nie. God praat deur te doen. Jeremia beklemtoon die reddingsdade van God. Met die Karmel-gebeure wys Elia dat God uit die hemel met vuur kan antwoord. Die doendinge (reddingsdade en skeppingswerke) van God is die kern van die boodskappe van die skrywers van die Ou Testament. Hy staan sy volk met woord en daad by.

Aan die einde van die Johannes-evangelie sê die skrywer dat dit nie al is wat Jesus gedoen het nie – daar is nog baie ander dinge ook. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie (Joh 21: 25). Dit is waarskynlik ’n bietjie oordryf, maar die punt wat die skrywer wou tuisbring, is dat Jesus veelvuldige geloofsdinge gedoen het. Sy dade eerder as sy woorde het die kalklig gesteel. Hy gee hongeriges kos; Hy bemoedig; Hy huil saam met bedroefdes; Hy genees blindes, siekes en melaatses; Hy red mense uit ’n seestorm; Hy vergewe sondes. Alles wat Hy praat, word deur dade bevestig. Dit is hoe God is.

As ons kerk van Christus wil wees, sal ons uit ons praathuise (soos wat Luther kerkgeboue genoem het) moet kom. Dis nie goed genoeg om net woordstrooiers te wees nie.

Here, help my om u evangelie te leef. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link