Job 1 en 2

Dit klink na baie goeie raad as Job vir sy vrou vra: As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie? (Job 2: 10). Maar dit kan net waar wees as ons soos Job en sy vriende sou glo dat God die oorsaak is van alles wat met jou gebeur, goed of sleg. Ons weet vandag dat, hoewel ons aan God die eer gee vir al die seëninge wat ons in ons lewens ervaar, dit nie Hy is wat die slegte dinge op ons pad bring nie. Dit is nie God wat byvoorbeeld die pyn, ellende en droefheid van ’n plaasmoord op mense se pad bring nie, dit is ’n bose daad deur ’n bose mens. Daarom hoef ons nie die slegte te aanvaar as komende van God nie.

Maar dit beteken ook dat ons Hom nie moet kwalik neem, of aan Hom moet begin twyfel as die slegte op ons pad kom nie. Die wonder van ’n lewe in vertroue op Hom, is immers dat ons in voorspoed of in nood altyd op sy bystand en genade kan reken. Maar hoe staan Hy ons by?

Hoewel hoofstukke 1 en 2 sowel as die afsluiting nie deel is van die lang gedig oor Job nie, en waarskynlik later bygevoeg is, kry ons tog hier ’n klein kykie in hoe God mense in hul nood wil bystaan. Hy wil dit onder andere deur ander mense doen. Job se vrou het geen simpatie met hom daar op die ashoop in sy ellende nie. Maar sy vriende wat hom daar kry, kom sit soos opregte vriende by hom – sewe dae lank – sonder om ’n woord te sê, net om daar te wees. Dit klink na ware vriendskap. Ongelukkig, toe hulle begin praat, is hul woorde giftig en veroordelend. As ons dus onthou dat God deur ons liefde bystand aan mense in nood wil verleen, moet ons vra: Watter soort vriende wil God hê moet ons wees? Vriende wat simpatieloos veroordeel op grond van ons eie siening, of vriende wat daar is vir ’n vriend in nood?

Ds Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

af
af
Deel met behulp van
Copy link