Jesaja 55: 6-13
Hierdie oproep tot bekering aan Israel is baie belangrik. Dit is ’n geleentheid om weer terug te keer na God toe. So beleef ’n mens sy onbegryplike genade. God se genade is juis so vreemd en anders, omdat mense mekaar nie sommer vergewe as die een die ander verontreg het nie. Veral ook nie as ’n mens ’n paar keer dieselfde fout herhaal nie. So ’n persoon skryf jou gewoonlik af. Maar nie God nie. Hy vergewe!
Tog beteken dit nie dat ons God se genade moet misbruik nie. Sy genade strek baie verder as mense s’n, maar daar kom ook ’n tyd wanneer dit ophou. ’n Mens kan mos nie vir altyd besluiteloos bly nie. Die Here het Israel vir jare lank gewaarsku, tog het hulle aanhou sonde doen, totdat die waarskuwingstyd verstryk het en die Here sy aangesig weggedraai het van hulle. Dit was gewoonlik dan wanneer Israel nog meer agteruitgegaan het weens hul eie lot en in onmoontlike situasies (soos ballingskappe) beland het. Maar dan keer die Here weer terug en roep hulle op om te bekeer. Dit is hoekom Jesaja hier sê dat hulle die Here moet soek terwyl Hy te vinde is. Dit is ’n wonderlike, versoenende kans om aan te gryp! Wanneer ’n mens daardie kans aangryp, besef jy werklik die ontsaglike groot genade van die Here wat jou vervul met vreugde en vrede.
Ons kan ook hierdie boodskap gerus ter harte neem. Met Christus se geboorte is dit weer eens ’n herinnering aan die groot genade van die Here, wat vir ons ’n ongelooflike geleentheid gebring het om die mens se verhouding met God te herstel. Om God se aangesig altyd naby ons te kan hê. God roep ons om terug te draai na Hom toe. Wanneer ons terugdraai na die Here, en in Hom glo, dan bring dit ook ’n verandering by ons. God is anders as die wêreld, en so verander ons verhouding met die Here ons om ook anders as die wêreld te wees.
Kom ons soek die Here terwyl Hy te vinde is.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp
