Psalm 136

Adventstyd val in Suid-Afrika in die somer – en dit bring noodwendig ’n groter bewustheid van die skepping mee. Ons vereenselwig ons daarom maklik met die digter van Psalm 136 wanneer hy in hierdie Skeppingspsalm God se grootheid en goedheid bely en Hom loof wanneer hy sy magtige dade in verwondering aanskou.

Ons beleef dieselfde gevoel van verwondering elke keer as ’n baba gebore word; elke keer wanneer iemand iets uit selflose liefde doen; en moenie vergeet van elke genade-asemteug nie. Ons beleef dit weer en weer elke keer as ’n nuwe dag breek en tydens elke sonsondergang; en by die aanskoue van die sterre aan die hemelruim en die glorieryke omvang van die uitspansel; en ook in die geelperskereën in die boorde en in die reuk van nat grond en frangipani’s wat blom in die Laeveld. Ons hoor dit in die geluid van ’n brullende leeu, die snork van ’n renoster, die skree van ’n visarend, die koer van ’n tortelduif, die roep van ’n piet-my-vrou, die branders wat klots teen Victoriabaai se rotse, die geknetter van ’n sekelbos-kampvuur in die Bosveld en in die klank van die soetste taal. Ons sien dit in die beeld van ’n arend in vlug, miskruiers ywerig aan die werk tussen olifante in die Oos-Kaap, bloekoms langs die Breërivier, die Sederberge se rotsformasies, ruwe klowe in die Richtersveld, Strandfontein se sandsteenkranse, herfs in die Oos-Vrystaat, geil mielielande tussen Bloemhof en Wolmaransstad, rooibos- en aartappellande in die Sandveld, ’n tolbos wat rol in die Karoowind, kosmos en donderstorms op die Hoëveld, koraalriwwe, dolfyne en wit strande aan die noordkus, springbokke op die Kalaharivlaktes, blomtapyte in Namakwaland, en fynbos en proteas teen die hange van die Outeniquaberge onder die korhaanbloulug. Jy kan hierby nog ruim aanvul. Groot verwondering; Goddelike skoonheid oral; louter genade.

Die Psalmdigter besing die grootheid van God en die wonder van alles wat Hy gemaak en gedoen het – en telkens kom hy weer diep onder die indruk van die heel grootste wonder: Die nimmereindigende liefde van God. Ons word 26 maal in dié Psalm herinner: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap