Lukas 15: 11-32

Met gelykenisse probeer Jesus die mense iets nuuts leer oor hul verstaan van die koninkryk van God en hul verhouding met God. Hierdie verhaal, bekend soos dit is, is nie anders nie. Dit gaan oor twéé seuns, die jongste en die oudste. Dit is ’n bekende tema in die Bybel – dink aan ander jongste-oudste-verhale, soos Josef en Benjamin en hul broers, en Kain en Abel, en Jakob en Esau… Die jongste, maak nie saak wat hy verkeerd gedoen het nie, is op die oog af bo die oudste bevoordeel.

Die verrassing in hierdie gedeelte is dit wat die pa vir die oudste seun sê wanneer laasgenoemde kwaad by die huis kom: Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune… (Luk 15: 31). Hy raas nie, hy spreek sy seun aan in liefde. Hy sê vir hom alles wat hy besit, is syne. Dit blyk duidelik dat hy ook ’n belangrike plek in sy hart gehad het.

In hierdie gelykenis is die pa se liefde en aanvaarding van albei sy seuns die metafoor vir die koninkryk van God. Die koninkryk van God kies nie tussen mense nie, dit is nie eksklusief nie en dit sluit nie uit nie. In die koninkryk van God is die een nie belangriker as die ander nie, een is nie meer aanvaarbaar as die ander nie.

Op hierdie tweede Adventsondag wil God elkeen van ons weer verseker van sy liefde en sy genade, wat vir almal beskore is, en wil Hy ’n appèl tot ons rig dat die liefde wat God aan ons bewys het in sy Seun Jesus Christus, ons sal saambind en nie sal afgrens nie. Dat ons mekaar ruimte sal gee om te wees, om anders te wees, anders te dink, anders te doen – met die wete dat ons een is in Jesus Christus. Jesus meet ons tog nie aan die wêreld se standaarde nie, maar kyk na ons met oë vol liefde en aanvaarding.

Ds Marike van der Merwe, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap