Johannes 15: 5
In hierdie Ek is-uitspraak sê ons Here Jesus: Ek is die wingerdstok.
Dié gedeelte in Johannes 15 stel die verbondenheid tussen Jesus en dié wat aan Hom behoort, in die middelpunt. Jesus het die verwagting dat sy volgelinge in sy voetspore sal volg en die taak waarmee Hy begin het, sal voortsit. Hy verduidelik dit dan aan die hand van die beeld van ’n wingerdstok. Jesus sê: Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer (Joh 15: 1). Jesus is die “ware wingerdstok”, sy Vader die “Boer”, en gelowiges is die “lote”. Uit die wingerdstok ontstaan lote, en hierdie lote dra vrugte. Die lote kan nie sonder die wingerdstok bestaan nie, want die lote se lewe bestaan uit die voeding wat van die wingerdstok verkry word. Die Here sê wel ook meer oor die verhouding tussen die wingerdstok en die lote. As die loot nie vrugte dra nie, word dit afgesnoei of die loot word reggesnoei, sodat dit meer vrugte kan dra. Die loot word nie eenvoudig afgeknip of verniel nie, dit word met soveel sorg gesnoei dat dit meer vrugte kan dra.
Die kernwaarheid van ons Christelike geloof is dat ons soos lote uit die “ware wingerdstok” groei. God, die Vader, sorg vir sy wingerd en Hy beskerm ons, en deur ons Here, Jesus Christus, se genade hou Hy ons elke dag in stand. Die geloof wat die Heilige Gees in ons hart werk, bind ons aan Jesus Christus vas, en dit is wat Jesus ons hier, in Johannes 15, leer – dat ons “in Hom” moet bly: Hy is die wingerdstok, ons die lote. Wie in Hom bly, dra baie vrugte, want sonder Hom kan ons niks doen nie. Die woorde bly in my dui op ’n intieme verhouding met die Here. Jesus vra dat sy volgelinge ware navolgers van Hom sal wees en dat dit sal uitloop in die vrug wat tot eer van God gedra word. Kom ons hou vas aan Christus se genade en bly in Christus soos lote, sodat ons vrugte kan dra wat tot eer van God is.
Dr Rudy Denton, Potchefstroom-Studente
