Markus 9: 2-8

In die San Marco-museum in Florence is daar ’n merkwaardige skildery van Fra Angelico. Dit is ’n uitbeelding van die verheerliking van Christus op die berg. Hy staan met uitgestrekte arms daar, omring deur ’n hemelse wit lig. Op die rand van die skildery sien ’n mens die verskrikte dissipels: Petrus, Jakobus en Johannes. Vanaf die kante kyk onder andere ook Moses en Elia na binne, in aanbidding voor die verheerlikte Christus.

Op die voorgrond is uiteraard die verheerlikte Christus; as jy ’n bietjie dieper kyk, sien jy die arms van Christus is naamlik presies so uitgestrek as wat dit aan die kruis was, met sy handpalms na vore gedraai soos wat dit aan die kruis vasgespyker was. Die skildery wil aantoon: Die Een wat verheerlik is, is niemand anders nie as die Een wat gekruisig sou word; en die Een wat gekruisig sou word, is ook die Een wat verheerlik is.

In Markus se beskrywing van die verheerliking op die berg is Petrus opgewonde om deel daarvan te wees. Om saam met die verheerlikte Christus te wees, is vir hom die hoogtepunt. Hier, in die ligkring van die Christus, is ons belangrik. En tog gaan hierdie oomblik verby. En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle (vers 8). Net Jesus alleen. Net Jesus en sy woorde en opdragte wat gehoorsaam moet word.

Christus is inderdaad die ewige Seun van God, maar Hy is nog nie op dié wyse by ons teenwoordig nie. Sy koninkryk is nou nog grotendeels verborge. Hy kom na ons toe, nie in ’n skitterende gestalte nie, maar in die gedaantes van hongeriges, vreemdelinge, siekes en gevangenes.

As ons wil getuig, sal ons onsself eers moet afvra wie Jesus vir ons is: die verheerlikte, of die gekruisigde?

Gebed

Here, help my om te verstaan dat om vir U te getuig, moet ek bereid wees om ’n dienaar van ander te wees.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

Share via
Copy link
Powered by Social Snap