1 Samuel 21: 1-9 (AFR2020)

Die wilde, aggressiewe kyk wat die Springbokslot sy teenstander gegee het, is oral in die media te sien. Maar dit lyk natuurlik net so erg omdat dit in stadige aksie gespeel word, of ’n foto ’n enkele greep daaruit vertoon. Speel dit teen normale spoed en jy kom agter dit was nie naastenby so erg nie.

Maar dit is mos presies wat ons gereeld doen. Ons laat toe dat iets wat eintlik gou moet oorwaai, vassteek in ons gemoed en geheue – ’n konfliksituasie, ’n teleurstelling, ’n nederlaag of ’n mislukking. Ons speel dit in stadige aksie oor en oor in ons koppe. Ons kyk weer en weer na die foto of skermskoot. Ons fokus so op die negatiewe dat ons in die proses vergeet van al die positiewe, die seëninge, die goeie, die uitkoms – ook en veral dít wat God in die verlede vir ons gedoen het.

Ons weet dat die jonge Dawid, teen alle verwagtinge in, Goliat met ’n rivierklippie neergevel het. Dawid, wat nie ’n swaard by hom gehad nie, het die reus toe met sy eie swaard doodgemaak.

Dawid is hierna natuurlik koning Saul se held – tot die koning bedreig deur hom begin voel en beplan om hom dood te maak. Hierdie gevaar laat Dawid vergeet dat God hom nog altyd beskerm het. Vreesbevange op vlug kom hy in Nob by die priester Agimeleg aan. Dawid vra vir Agimeleg in vers 8: U het nie dalk hier ’n vegspies of ’n swaard byderhand nie? Die priester antwoord dat Goliat se swaard waarmee Dawid hom doodgemaak het, daar is, toegedraai in ’n kledingstuk, en dat hy dit vir hom kan neem.

Hoe die swaard daar beland het, weet ons nie – maar Dawid antwoord: Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my (1 Sam 21: 9). God het Dawid met daardie swaard herinner dat hy geen geveg alleen veg nie.

Iewers is daar ook ’n swaard uit my en jou verlede. Kom óns dink ook aan God se beskerming en bystand in die verlede. Speel dít oor en oor in stadige aksie. Daardie herinnering sal ons deur enige donker diepte dra.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap