Matteus 5: 43-48 en 7: 12

Hulle sê barmhartigheid begin tuis. As ek nie eers na my eie mense kyk nie, sal ek nie na ander kan omsien nie. So, wat hulle sê, maak volledig sin… Maar wie is die hulle wat so sê?

Kom hierdie waarheid dalk van die Romeine en Grieke af? Waarskynlik nie. Dit is juis by die ou Grieke dat ons die beginsel van gasvryheid leer. Die goue reël – doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê – vind ons al in 800 vC in die verhaal van Odysseus deur die Griekse skrywer Homeros. Na vele ontberinge in die oorlog tussen die Grieke en die Trojane, moet Odysseus terugkeer huis toe. Die ongeskrewe reël was dat Grieke goedheid en gasvryheid aan vreemdelinge moes betoon. Sonder die goedheid van sy medemens, sou Odysseus nooit die huis gehaal het nie!

Dalk leer ons dit by die Israeliete van die Ou Testament. Dit kan ook nie wees nie, want in meer as honderd Bybelgedeeltes word die volk opgeroep of vermaan om om te sien na die weduwees, wese en die vreemdelinge in hul midde. Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie reg laat geskied aan ’n vreemdeling, ’n weeskind of ’n weduwee nie! (Deut 27: 19).

Jesus het ook nie sy dissipels so geleer nie. Ons lees in Matteus 7: 12 dat Jesus sê: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete. Weer die goue reël! Die grondslag van die bergrede is juis om die kokon van omgee slegs in jou binnekring, oop te breek. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? (Matt 5: 46). Dit is waarskynlik die verskil tussen liefdadigheid en barmhartigheid.

Wie die hulle is wat so sê, weet ek steeds nie. Die dilemma is: As barmhartigheid by die huis begin, dan bly dit die meeste van die tyd tuis! En dan is ons niks beter as die heidene nie.

Gebed

Here, help my om die nood van my medemens raak te sien. Amen.

Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap