Titus 3: 1-11

God het die Heilige Gees ryklik oor ons uitgegiet. Sy goedheid en menseliefde het in ons Verlosser verskyn. Deur die Heilige Gees word ons weergebore en word ons vernuwe.

Die teenwoordigheid van die Heilige Gees in mense se lewens, in die kerk se lewe, in ons lewe, maak ’n verskil aan ons optrede, ons onderlinge meelewing en ons toewyding aan die Here. God se goedheid en liefde verander mense. In Paulus se omskrywing van hierdie goedheid en menseliefde van God, vind ons die hart van die Christelike liefde. Hy het ons verlos op grond van sy goedheid. Hy het ons sonde afgewas en ons lewe deur sy Gees nuut gemaak. Christene belaster nie mense nie en is ook nie bakleierig nie. Inteendeel, Christene is vriendelik en sagmoedig. Mense en die kerk in wie se lewe die Heilige Gees teenwoordig is, is mense en ’n kerk wat nuut leef. Ons moet ons geloof spontaan uitleef. Dit doen ons daar waar ’n hart stukkend is, waar ’n reisgenoot moedeloos of swak geword het, siek is, honger ly, krisis beleef. Geloof word ook in ons binnekamer geleef waar ons vir mekaar bid, in ons harte geleef wanneer ons mekaar vergewe. Geloof word in die gemeente geleef wanneer ons mekaar verdra, saam werk, saam dien, saam skuld bely en saam deel in die genade van God.

Goeie werk, werk wat nuttig is vir mense, word gedoen in nederigheid en toewyding, in dankbaarheid vir God se genade en verlossing. Ons het die Heilige Gees oorvloedig ontvang deur Jesus Christus ons Verlosser. In dieselfde mate wat jy ontvang het, moet jy aan jou medemens uitdeel.

Die tyd waarin ons leef, het sy eiesoortige krisisse en probleme. Mense se nood is onbeskryflik. Raak betrokke in jou gemeente, in jou gemeenskap. Bemoedig mense, versorg hulle geestelik. So word ons ’n sterk krag wat die evangelie van redding die wêreld in leef.

Ds Willem Kok, Potchefstroom

Share via
Copy link
Powered by Social Snap