Lukas 11: 1-13

Gebede deur gelowiges word gekenmerk deur versoeke en baie vrae. Daar is so baie wat ons nie verstaan nie, en so baie kere wanneer ons wroeg oor wat in ons lewe gebeur. Op versoek leer Jesus sy dissipels om met die regte gesindheid te bid. Die probleem is juis dat dit so maklik ’n formulegebed kan word met die regte woorde, maar jou hart is nie regtig daarin nie.

Met die uitbreiding in die gedeelte waar Hy sy dissipels leer waarop die gebed in praktyk neerkom, kom ons agter dat die karakter van ’n gebed die stempel moet dra van die egtheid van ’n verhouding met God. So ontdek ons dat God nie maar net ’n wonderwerker is wat aan al ons versoeke voldoen nie. Dit is nie ’n geval van gee en gee nie, maar van vra en vra. Dit is soms ’n worsteling wat jy met God het, en ander kere selfs ’n wroeging. Die voorbeeld van ’n vriend wat by ’n vriend brood wil leen om aan ’n vreemdeling wat onverwags opgedaag het kos te gee, is oënskynlik om met iets gepla te word waarby jy geen belang het nie. Tog spreek dit jou in jou diepste gewete aan.

Al sou die logika om nie te help nie hoe gemotiveerd ook al wees, gaan dit ook oor skaamteloosheid en eer. In die sosiale konteks van destyds sou die hele dorp die volgende dag geweet het as die man nie bereid was om sy vriend te help nie. Sy eer en eintlik dié van die hele gemeenskap sou op die spel wees. Die feit dat sy vriend hom aanhou vra, motiveer hom om te gee.

Jesus motiveer ons om aan te hou vra, al doen ons dit verkeerd. Ons Vader sal gee wat nodig is, selfs meer. Hy sal die Heilige Gees gee, die Een wat die werk van Jesus Christus in ons voortsit. Die Gees staan ons in swakheid by en pleit vir ons met die regte woorde by God (vgl Rom 8: 26).

Ds Dries Beukes, Emeritus/Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link